EK KRY ‘N TWEEDE KANS.

MY EIE GETUIENIS

EK KRY ‘N TWEEDE KANS.

‘n Chirurg het eendag gesê ons moet onthou dat net God besluit wie lewe en wie gaan dood en dat hulle ook maar net instrumente in die hand van God is. Hy het ook gesê dat hy al vele male iemand gevind het wat op die oog af gesond is en dat hulle niks verkeerd kry nie, maar steeds sterf terwyl ander weer so siek is dat hulle niks meer vir daardie persoon kan doen nie en dan op wonderbaarlike manier gesond word, omdat God dit so beskik het.

So is ek in Augustus 2011 opgeneem in die hospitaal met ʼn steekpyn in my bors en het hulle 1.5 liter bloed vanaf my longe gedreineer, maar kon geen oorsaak vind nie. Ek is na ‘n week ontslaan maar is kort daarna weer opgeneem waar my toestand net agteruit gegaan het. Weereens sonder enige oënskynlike rede.

God wou met my praat. God wou vir my ‘n boodskap bring. Ek moet my saak met God regmaak. En ek het! Wat ‘n wonderlike voorreg was dit toe ek een aand daar in die hospitaalbed gelê het, met ten volle vrede in my hart en vir God gesê het: “Dankie Here nou kan U my maar kom haal.” Ek noem dit ‘n voorreg. ‘n Voorreg om so te kan glo en te weet, jou saak is reg by God.

Die volgende oggend het ek wakker geword steeds ernstig siek, maar met ‘n ander wilskrag in my, ‘n wilskrag om te lewe. Ek het weer begin bid en God gesmeek om my gesond te maak. Ek het belowe om nooit weer te kla oor die onregverdighede van die lewe nie en gevra om net weer eenkeer by die bank te gaan smeek vir geduld of om net weer een keer ‘n debat te voer met munisipale amptenare oor wat goed is en wat sleg is vir ons dorp.

God het gehoor gegee aan my bede en my gesond gemaak. Die dokters weet tot vandag toe nie wat my makeer het nie, maar ek weet: MY VERHOUDING MET GOD WAS VERKEERD. (As ek nou so gereeld by die bank besoek aflê moet ek myself herinner dat die my eie versoek was.)

Ons almal het iewers in ons lewe ‘n ervaring gehad waar ons glo ons bekeer is. Nie net omdat ons gesê is in die Sondagskool dat dit so is nie, maar ‘n hernuwende ervaring waar jy wil sê, “Dankie God, my lewe behoort aan U.”

Alhoewel ek as kind van die Here groot geword het, het ek so ‘n ervaring gehad in die hoërskool, hier rondom 1976, toe ‘n landswye “Jeug tot Jeug” aksie gehou is, en ons een aand in groot getalle op Bellville se rugbyvelde bymekaar gekom het om na jongmense se getuienisse te luister. Daar het ek my lewe weer en eintlik eers werklik vir die Here gegee.

Maar soos hierdie lewe van ons maar altyd vol sondige versoekinge is, is dit baie maklik om te bly glo in die Here en nie volgens jou geloof te lewe nie. Moet nie wag tot jy 51 jaar oud word voor jy seker maak dat jou lewe reg is met God nie, maar is my boodskap ook, dat al is oom of tannie reeds 80 jaar oud, is dit ook nie te laat om jou lewe nou reg te maak met God nie.

Ek bid dat ieder en elk wat nog nie daardie hernuwende ervaring gehad het nie, die besluit sal neem om nou jou weereens ten volle oor te gee aan die Here en vertrou dat u spoedig, saam met my die volheid daarvan sal geniet. AMEN