Skeep ek my medemens af?

1/18/2013

Na ‘n lang gesoek na ‘n man wat in my tuin kan werk stuur die Buurtwag Gatiep vir my. By navraag het ek vasgestel dat hy by die munisipaliteit gewerk het en sy werk verloor het as gevolg van sy drinkgewoontes.

Sy eerste groot taak was om al die onkruid op die gras uit te trek. Gou het ek agtergekom dat hy nie baie vlytig is nie, om die waarheid te sê hy is stadig, baie stadig. Soos Pierre Le Roux, by wie hy ook gewerk het sê: “Jy moet dophou dat die onkruid hom nie vasgroei nie”.

Die groot probleem is egter sy gesuip. Elke dag daag hy half gesuip of met ‘n enorme babbelas op. Nie dat dit sy werk beïnvloed nie, want hy kan nie regtig stadiger raak nie. Die ongeluk is die stank. Daar hang permanent ‘n walm van sweet en suur wyn om hom wat wind-op geruik kan word.

As ons iewers heen moet ry is daar geen manier dat hy voor by my kan sit nie. Om die waarheid te sê, hy moet heel agter teen die flap van die bakkie sit sodat die wind hom kan vang en selfs dan, as jy stilhou kom haal die walm jou hier by die stuurwiel.

Die Struisbaai inwoners het ‘n ou gewoonte om nie te stop by ‘n stopstraat nie. Omdat ons lank al probeer om die inwoners te oortuig om te stop, stop ek altyd dood om dan nou die goeie voorbeeld te wees. Maar met Gatiep agterop die bakkie val ek nou maar weer in by die inwoners se ou gewoonte.

Skeep ek dan nou regtig my medemens af as Gatiep nie voor in die bakkie mag ry nie?