DIE BURGER LAASTE,18 Oktober 1991 bladsy 1.
En nou vir die heel grote . . . 'n Kaapse walvisbraai
'n Noorkapper-walvis, van die soort wat vissers wil braai om geld in te samel.
EERS 'n kameelperd- en 'n renosterbraai en nou 'n beoogde walvisbraai! As die feesorganiseerders op Struisbaai hul sin kry, sal besoekers so veel walvis-steak van die spit kan eet as wat hulle wil en sodoende die vissers daar van geldelike ondergang red. Die plan volg op die afgelope drie jaar se ``droogte'' in die water na-aan die suidpunt van Afrika. Die vissers van Struisbaai beplan 'n groot makietie in die vorm van 'n walvisbraai vir die komende Kersvakansie ter stywing van hul inkomste. Weens die swak vangste in 'n gebied wat voorheen gewemel het van geelstert, geelbek en kabeljou, is tot dié optrede besluit. Struisbaai se handlyn-vissers het mnr. Bayley Swart van die plaas Uitkyk tot voorsitter en woordvoerder van 'n loodskomitee verkies om die belange van vissers te bevorder wat geldelik in die knyp is. Dié komitee het nou by die Departement van Omgewingsake aansoek gedoen om 'n permit om ``een klein noordkapper-walvis te vang en dood te maak en 'n braai in die Kersvakansie te hou''. In sy aansoek wys die komitee daarop dat die Voet van Afrika-marathon die afgelope Saterdag deur 'n skare van meer as vyfduisend mense bygewoon is, ``wat 'n groot geldelike inspuiting vir die gebied was''. Mnr. Swart en sy komitee meen 'n noorkapper-walvis op die spit kan 'n skare van minstens tienduisend lok. ``Dit sal 'n Kersbonus vir die gemeenskap beteken en welkome verligting bring aan sommige inwoners wat minder as R1 000 per jaar verdien. ``Indien sodanige permit aan ons toegestaan word, sal ons 'n walvis op die menslikste manier jag en doodmaak,'' lui die aansoek. Noorkapper-walvisse is dié tyd van die jaar volop aan die Suid-Kaapse kus waar hulle kom kalf. Hulle is beskermde diere wat ingevolge wetgewing glad nie gevang of gesteur mag word nie.
DIE BURGER LAASTE,24 Oktober 1991 bladsy 18.
Menings van ons lesers
Braai diegene wat renoster- en walvisplan uitdink
J.A. Lourens, Wynberg
J.A. Lourens, Wynberg, skryf: Eers 'n kameelperd, toe 'n renoster en nou 'n walvis! Ek stel iets voor wat beter is as die kameelperd-, renoster- en walvisbraaiery. Op die volgende Kaapse Fees kan 'n organiseerde-braaiery gehou word. Dan braai ons elke dag een van die mense wat met sulke gekke voorstelle vorendag kom, stadig oor die spit. Ons kan toegangsgeld vra, sodat almal wat wil sien dat sulke gekke in hul eie sous braai, kan kom kyk. Dié geld kan geskenk word vir die bewaring van bedreigde diere soos walvisse, renosters en kameelperde. Ek is daarvan oortuig dat ons 'n stewige bedrag sal insamel, aangesien honderdduisende natuurliefhebbers só 'n gedagte sal steun. Ek sal beslis bydra.
SCHALK SE GEDAGTES
Persoonlike stories en geloofsoortuigings.
Mag u 'n vreugdevolle dag geniet.
Groetnis SCHALK.
schalklou@gmail.com
+27 82 568 3022
© 2025. All rights reserved.
Kontak besonderhede