DIE BURGER LAAT, 4 Junie 1997 bladsy 8. Streeknuus: Platteland

Walvismelk bring uitkoms vir vissers

Eie Korrespondent

STRUISBAAI. Plaaslike vissermanne se vangste was dusver vanjaar maar swak, en gevolglik moet hulle 'n plan beraam vir 'n alternatiewe inkomste. Verkoop walvismelk, blyk toe die antwoord te wees.

Dit is bekend dat 'n sekere walviskoei nie die groot uittog saam met die ander meemaak nie, maar permanent by 'n vlak bankie suidwes van die Kaap Agulhas Vuurtoring bly. Sy het in 1996 'n kalf gehad wat vroeër vanjaar tussen Agulhas en Suiderstrand uitgespoel het. Die vissermanne het gehoor dat 'n walviskalf 6,1m lank by geboorte is, 2,8 cm per dag groei en tot 1600 liter melk per dag verorber. Hier het hulle dadelik 'n geleentheid gesien vir 'n paar sent.

Navraag is by Tony McEwan, operasiebestuurder van die akwarium in die Waterfront gedoen, wat te kenne gegee het dat walvismelk geskik behoort te wees vir menslike gebruik.

Die hulp van 'n melkboer is ingeroep en 'n suigpomp is prakseer wat gekoppel is aan 'n kompressor wat op 'n boot gemonteer is. Die vissermanne was steeds versigtig en het navraag gedoen oor die moontlikheid om 'n permit te bekom, aangesien wetgewing bepaal dat niemand nader as 300m aan 'n walvis mag kom nie.

Mnr. Ken Finley van die Universiteit van Kaapstad, het hulle meegedeel dat dié wetgewing die strengste ter wêreld is en dat die noorkapperwalvis sedert 1984, toe die wet van krag geword het, in getalle reeds groei van 7 persent getoon het. Hy kon egter nie sê of so 'n projek nadelig vir die walvis sal wees nie, en dat hy met sy navorsingspermit so naby aan walvisse beweeg het dat hy hulle soms moes wegstoot van die boot.

Hoewel die vissermanne nog nie 'n permit het nie, was hulle bang dat die koei se melk kan opdroog en is die projek reeds begin. By navraag ontken almal dit en maak asof hulle niks daarvan weet nie. Gewoonlik is dit moeilik om vas te stel hoeveel melk hulle daagliks kry, maar teen 1600 liter per dag kan dit vergelyk word met 'n melkery, met nagenoeg 100 melkkoeie. 'n Melkkoei kos ongeveer R2000, en dié walviskoei kan dus vergelyk word met 'n batewaarde van R200000. Die melk word blykbaar verwerk tot poeiermelk. 'n Mens wonder nou net wanneer 'n walvis op jou melkbottel gaan verskyn.