Wanneer gaan ons Hemel toe?
My opvatting en Franziska se antwoord.
10/10/2014
Wanneer gaan ons Hemel toe?
Posted on October 10, 2014 at 4:20 AM
In die Apostoliese Geloofsbelydenis verklaar ons dat die Here aan die regterhand van God sit en "waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel." Nou is my vraag: Gaan ons na ons dood eers wag tot Hy weer kom om ons te oordeel sodat ons dan kan Hemel toe gaan? Ons sien dit ook in Vraag 52. van die Heidelbergse Katagismus: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel? "Antwoord: Dat ek ... dieselfde Persoon ... as Regter uit die hemel verwag ... Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c)."
Ek weet ek dink hopeloos te letterlik hieroor, maar sou dit waar wees was dit een van die redes wat die "eie ek" vir my gesê het ek nie nou wil doodgaan nie. Ek wil darem nie graag vir 'n 1000 jaar of 10000, selfs 20000 jaar dood wees voor ek die ewige lewe kan kry nie.
Terwyl ek vanoggend uit Andries Enslin se "Bybeldagboek" lees nl. Galasiers 4: vers7 "En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak" en sê Andries ook ons is dus eintlik mede erfgenaam saam met Christus. So het die Heilige Gees dadelik weer die gedagte van die ewige lewe in my laat opkom: Johannes 3: vers16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." en net daar die antwoord op my vraag hierbo gekry. Om die waarheid te sê het ek altyd self die antwoord gehad. Lees "Is lyding 'n straf" (8 Junie 2013) wat ek vroeër hieronder geplaas het. Of dit 1000 jaar of 10000, selfs 20000 jaar neem is dit steeds wegneembaar kort gemeet in terme van die ewigheid.
12 Oktober 2014
Ek het bietjie pakslae gekry oor my letterlike vertolking en vra ek om verskoning. Ek vra egter om liewer net die boodskap raak te sien en dit is die vergelyking tussen ons tyd en die ewige tyd.
Liewe Schalk
Ek het nou mooi gedink oor die vraag en gewonder uit watter hoek om te antwoord. Ek verstaan die vraag so, help my reg as ek verkeerd is: Gaan mens na jou dood in ‘n wagtydperk in die graf in voor jy by die hemel uitkom?
My antwoord is so bietjie filosofies.
Die Duitse filosoof, Immanuel Kant het met sy groot werk Kritik der reiner Vernunft 1782 (Kritiek van die suiwere rede) gesê ons as mense gebruik sekere inherente werkings van ons brein om sin te maak uit ons ervarings. Wikipedia beskryf dit nogals goed. Ek haal aan : “Kant argued that our experiences are structured by necessary features of our minds. In his view, the mind shapes and structures experience so that, on an abstract level, all human experience shares certain essential structural features. Among other things, Kant believed that the concepts of space and time are integral to all human experience, as are our concepts of cause and effect“
Hieruit blyk dat als met tyd te doen het en dat objekte ruimte beslaan as twee van die maniere waarop ons brein sin maak uit die werklikheid om ons. Hy noem dit a-priorioriese veronderstellings (vooraf veronderstellings) Sonder hierdie voorveronderstellings kan mens eintlik nie logies dink nie. As ons egter mooi dink oor die konsep van veral tyd sal ons skielik besef hoe ontsaglik relatief dit is. Ons konsep van tyd het te make met die draai van een klein-tot-medium grote planeet om een nie baie groot ster uit die ganse sterrestelsel! Ons bepaal ‘n dag lente volgens die tyd wat hierdie planeet neem om een keer in die rondte te draai en ‘n jaar lente met een omwenteling om die betrokke ster. Tyd se meet en bestaan is dus ‘n baie beperkte konsep en ek is oortuig dat dit eintlik baie meer te doen het met ‘n manier om sinvol na te dink as met iets objektiefs daar buite. Om te demonstreer sit ek hier onder vir jou ‘n link na ‘n video oor lewenslente en die klank wat krieke maak.
In my gedagtes is tyd ‘n menslike konsep wat slegs vir die aardse lewe bedoel is. Die konsep van tyd stop dus met die aardse dood. Tyd is nie op God vantoepassing soos wat dit op ons vantoepassing is nie. God is buite om tyd. As tyd ‘n reguit lyn soos ‘n vetkryt is met ‘n begin, ‘n middel en ‘n einde is God die handpalm waarin dit vasgehou word. Die hand raak oral aan die kryt, maar is nie deel van die kryt nie.
Dus dink ek dat as ons sterf, tyd soos ons dit ken stop. So, ek sien geen wagtydperk nie. Soos ek vir my kinders sê: As jy dood gaan meld jy sommer dadelik by die wederkoms aan.
Al hierdie bogenoemde is egter spekulasie. Jy mag vra, maar wat van al die tydsaanduidings in die Bybel? God het vooraf gekies, of na dit als sal… Wel ek sien dit soos ek die verwysing van die Aarde as plat en op pilare sien. God praat in die Bybel met mense in die taal wat hul op daardie stadium verstaan, ook in die “wetenskapsmetafore” wat hul toe verstaan het. En as tyd integraal tot ons koppe is, dan praat God ook met aanduidings van tyd, maar hulle word gerelativeer deur die teks waarna jy self verwys, dat 1000jaar vir God soos een dag is. God is nie die gevangene van sy eie geskape tyd nie.
Ek hoop dit help en maak nie meer deurmekaar nie.
Wat kap en kritiek aanbetref, neem dit maar nie te ernstig op nie. Ons leef in ‘n kultuur wat aan mekaar die ander wil reghelp en beter weet. Maar oor die lewe na die dood kan mens nie weet nie, net droom.
Groete
Franziska
VDM@ NG Kerk Suidpunt
SCHALK SE GEDAGTES
Persoonlike stories en geloofsoortuigings.
Mag u 'n vreugdevolle dag geniet.
Groetnis SCHALK.
schalklou@gmail.com
+27 82 568 3022
© 2025. All rights reserved.
Kontak besonderhede